Die Spaanse Burgeroorlog (Spaans: Guerra Civil Española, Katalaans: Guerra civil espanyola) was 'n burgeroorlog in Spanje wat begin het na 'n staatsgreeppoging deur lede van die leër op die regering van die Tweede Spaanse Republiek. Die burgeroorlog het van 17 Julie 1936 tot 1 April 1939 in Spanje gewoed en is beëindig met die oorwinning van die rebelle en die daarstel van 'n diktatorskap gelei deur die Nasionalistiese Generaal Francisco Franco. Die ondersteuners van die Republiek, of Republikeine (republicanos), het die ondersteuning van die Sowjetunie en Meksiko verkry, terwyl ondersteuners van die Rebellie, ook bekend as Nasionales (nacionales), die bystand van die hoof-Europese spilmoonthede Nazi-Duitsland en Italië verkry het. Die VSA het amptelik neutraal gebly, maar het vliegtuie aan die Republiek en brandstof aan die Francisco Franco-regime verkoop.
Spanje het in die eeu voor die uitbreek van die Spaanse Burgeroorlog verskeie burgeroorloë en opstande deurgemaak, uitgevoer deur beide hervormers en konserwatiewes wat mekaar se mag wou onttroon. Terwyl die hervormers die absolutistiese monargie in Spanje wou vervang, die ou regime tot 'n einde te bring en 'n nuwe modelstaat stig, wou die meeste tradisionalistiese sektore in die politieke sfeer die hervormings stelselmatig vermy en die monargie bewaar. Die Infante Carlos en sy nasate het hulle onder die slagspreuk "God, Land en Koning" geskaar en vir die saak van Spaanse tradisie, absolutisme en Katolisisme geveg teen die liberalisme en later die republikanisme van die Spaanse regerings van hulle tyd. Inisiatiewe soos die stigting van die Eerste Spaanse Republiek in 1873 het begin om neigings in die Spaanse konsep van die Staat te vestig.